Wanneer kinders byt
- Desiland

- Mar 12
- 4 min read

Daar’s ‘n paar moontlike redes waarom kinders onder 3 jaar byt, maar niemand van ons weet regtig wat deur die byter se gedagtes gaan tydens ‘n insident nie. Babas en peuters verken die wêreld deur hul mondjies te gebruik. Soms is byt net ‘n voort vloeisel daarvan.
Algemene redes waarom kinders byt:
Tande: Wanneer kinders tande sny, bied die byt van voorwerpe tydelike verligting en hulle sal enige iets byt om verligting te kry. Dis maklik om hierdie probleem op te los aangesien daar wonderlike speelgoed is waaraan kinders kan byt.
Opgewondenheid en oor stimulasie: Wanneer kinders baie opgewonde raak, byt hulle omdat hulle nie weet wat om anders met die opgewondenheid te doen nie. In so ‘n geval moet die kind deur ‘n volwassene op ‘n aanvaarbare manier gekalmeer word.
Impulsiwiteit en die afwesigheid van selfbeheer: Babas byt soms net omdat daar iets is om te byt – dis ‘n manier vir die baba om sy omgewing te verken. In so geval is dit die volwassene se verantwoordelikheid om met ‘n ernstige stemtoon vir die baba te sê “Nee, dit maak seer”. So leer die baba dat dit nie aanvaarbare gedrag is nie.
Reaksie: Jong kinders hou daarvan om reaksie by ander uit te lok. Wanneer ‘n kind dus ‘n ander byt, kry hy nie net reaksie uit die maatjie wat gebyt is nie maar ook uit die volwassenes in die omtrek. Daar moet dus nie oormatig aandag gegee word aan die byter nie. ‘n Eenvoudige “Nee, dit maak seer” is genoeg en dan moet die aandag aan die maatjie wat gebyt is gegee word. So leer die byter dat dit nie die moeite werd is om so aandag te trek nie want die een wat gebyt is kry meer aandag.
Frustrasie: Te veel uitdagings, te veel geraas, te min spasie en te veel voorwerpe in die omgewing lei soms tot frustrasie by die kind. Veranderinge of stres by die huis kan veroorsaak dat die kind die maats byt om van sy eie woede, frustrasie en hartseer ontslae te raak. Soms doen die maatjie iets waarvan die byter nie hou nie en omdat die kind nog nie oor die kommunikasie vermoë beskik om te kan sê wat hom pla nie, byt hy.
Desiland Kleuterskool gebruik die volgende metodes om byt te minimaliseer in die klas:
· Daar word met ‘n ernstige of “kwaai” stemtoon aan die kind geverbaliseer dat dit verkeerd is om te byt.
· Die kind wat byt word uit die situasie geneem nadat daar “Nee, dit maak seer. Ons mag nie byt nie” aan die byter gekommunikeer is. Die aandag word dan aan die kind gegee wat gebyt is.
· Daar word gekyk na die konteks waarin die voorval plaasgevind het. Die personeel probeer ook kyk of daar ‘n patroon waargeneem kan word in herhaalde byt voorvalle. Was die kinders te veel in die klas? Was daar te min speelgoed? Was die kinders verveeld? Kry die kind wat byt genoeg liefde en aandag deur die verloop van die dag?
· Daar word met peuters wat byt gewerk om vir hul beter maniere aan te leer om uiting te gee aan hul gevoelens.
· Kinders wat moontlik gebyt kan word, word geïdentifiseer en daar word ekstra moeite gedoen om hul kans om gebyt te word te verminder.
· Kinders word nie as sleg of stout gebrandmerk omdat hul byt nie aangesien alle kinders met hul monde die omgewing eksploreer en dit sluit byt in.
· In die geval dat byt voorvalle deur dieselfde kind voort duur sal daar saam met die ouers na verdere metodes van voorkoming gekyk word.
Wat kan ouers doen as hul kinders begin byt?
Verwyder enige onnodige stressors by die huis bv. ‘n druk skedule of te veel aktiwiteite. Wanneer jou kind iemand byt in jou teenwoordigheid neem dieselfde stappe as bo genoem. Probeer ook om die situasie te evalueer om so te probeer om toekomstige voorvalle te vermy. Wanneer jou kind by die skool byt, gesels gereeld met die juffrou om vas te stel hoe jul so spoedig moontlik saam die probleem kan oplos. Byt is gelukkig ‘n fase wat gou verby gaan.
Wat om te doen as jou kind gebyt word by die skool?
Daar is niks so erg soos om byt merke op jou kind te sien as jy hom/haar by die skool oplaai nie, en wat dit erger maak is dat baba en peuter byt merke gewoonlik in die gesig is. Enige ouer se beskermings instink sal inskop en dis natuurlik dat jy ontsteld gaan wees. Probeer egter in ag neem dat dit as gevolg van ‘n groep situasie is en nie die fout van die kind, ouer of skool is nie. Weet asseblief dat dit vir ons by Desiland baie sleg is om aan ‘n ouer te rapporteur dat ‘n kind seer gekry het. Ons wil net so min soos u hê dat jou kind seerkry. Weet egter dat byt voorvalle hanteer word en dat ons die nodige en mees effektiefste metodes gebruik om die probleem op te los. Dit is ook Desiland se beleid dat ons nie aan ouers die naam van die byter gaan bekend maak nie aangesien dit nie gaan bydrae tot oplossing van die probleem nie.
Wanneer word kinders gevra om die skool te verlaat omdat hul nie ophou byt nie?
By Desiland Kleuterskool sal alle personeel soveel moontlik doen om die kind so vinnig moontlik deur die byt fase te help. Geduld moet egter aan die dag gelê word aangesien ons met individue werk en elke situasie word op eie meriete hanteer. Ons as skool wil egter ten alle koste probeer om die skorsing van ‘n kind as gevolg van ‘n byt gewoonte te vermy en daarom sal daar slegs in ekstreme gevalle met die aanbeveling van ander spesialiste van ‘n ouer verwag word om hul kind uit die skool te haal.
Die goeie nuus is egter dat alle byters dit wel ontgroei!!


Comments